Staan op! (Siegfried Maré)

Dit gaan woes daar tussen die Korintiërs. Hulle sleep mekaar hof toe, sommige gee hulself aan seksuele wanpraktyke oor, ander aanbid valse gode, van die ouens vat ander se goed en sommige vergryp hulle weer aan die bottel. Maar die grootste probleem is dat baie van hulle dit raaksien, maar net nie die guts het om vir die ander te sê dat hulle eintlik heeltemal van die pad af is nie. Hulle ken tog die Here, ken sy Woord, maar hulle het dit blykbaar vergeet of erger nog, verkies om dit te ignoreer.

Paulus is egter nie bang nie. Inteendeel, hy het die passie om ander te help en kan nie ophou om reguit hieroor te praat nie. Dit gaan sy kop te bowe dat mense so kan optree. Hoe stupid is dit nie?! Wéét hulle dan nie?! Dit is soos met kinders wat die pad huistoe eintlik goed ken. Soos kinders maar doen, het hulle begin speel en verdwaal geraak. As die ouers hulle uiteindelik vind, vra hulle vir die kinders: “Hoe kan dit wees dat julle verdwaal het? Ken julle nie die pad huistoe nie? Wéét julle dan nie waarlangs die weg loop nie?” Natuurlik het hulle dit geweet, maar hulle het ‘n ander weg probeer, en dit het hulle woes in die sop laat beland.

As dit nie vir Paulus was wat die durf gehad het en uit sy comfort zone geklim het nie, was die kans daar dat die mense van Korinte nooit eens vir God sou ontmoet het nie. Hoe ’n groot slag sou dit nie vir die Koninkryk van God gewees het nie!

In hierdie is daar ‘n ‘dare’ of uitdaging vir ons ook – dis dalk ‘n ‘uit jou comfort zone’-tipe uitdaging, maar een wat ons almal nodig het om te hoor.