Storie van Geloof (Deel 2: Paulus)
Paulus het nie doekies omgedraai nie. Paulus het ook nie sommer net iets gesê, omdat sê, sê is nie. Nee, hy het iets uitgespreek wat hy geglo het wél in die hoorder se lewe kan gebeur. Hy het nie iets uitgespreek omdat hy gehóóp of vermoed het iets kan gebeur nie. Hy het met sy hele hart gegló dit kán gebeur. Maar Paulus het één ding baie goed gesnap…om ‘n blywende impak en verandering te maak moes hy weet met wie hy praat, hy moes weet wat hulle konflik is, hy moes weet na wie hulle luister, en hy moes weet wie hulle anbid. Hy moes as’t ware binne-in hulle storie klim, sonder om die boublokke van hulle storie deel van syne te maak. Paulus het sy gehoor goed geken. Kyk nou maar na die ouens daar in Efese; die klomp heiliges het ‘n nare voorliefde vir die godin Diana gehad. Maar na Paulus se ywerige evangelisasiewerk en geestelike oorlogvoering, het Diana gesag begin verloor en het Christenskap sterk veld begin wen in die stad. Dis te betwyfel of Paulus só ‘n oorwinning bewerkstellig het deur ‘n diplomatieke strategie te volg.
Paulus kon nie stilbly nie. Die geheim moes uit! Hy het oorgeborrel van die storie wat hy aan almal wou vertel, die Storie van Jesus. Maak nie saak wat die risiko was nie, elke mens moes die goeie nuus hoor. Paulus het besef dat hy die leiding van God se Gees nodig gehad het om op die regte tyd die regte dinge te sê en te doen (veral gegewe dat sy geaardheid seker eerder meer na ‘n “draai of braai” tegniek geneig het). Paulus het sy eie weergawe van Truth and Dare gelewe. Hy het die waarheid gebring, binne die raamwerk van die hoorder se storie, maar saam met dit ook ‘n uitdaging, ‘n challenge, vir verandering. Die punchline van sy storie het genoeg punch gehad, was uitdagend genoeg, om ‘n werklike verskil teweeg te bring. En dit hét gewerk. Want as dit nié gewerk het nie, sou ons nie vandag ‘n gesprek oor Paulus gehad het nie.
Wat is die punchline van jou verhaal…die “truth and dare” aspek wat mense gaan bybly, en dalk, net dalk, hulle lewens kan verander?