Vir God se Glorie (Siegfried Maré)

Die storie van Sadrag, Mesag en Abednego gryp nogal die verbeelding aan. Soos jy die verhaal in Daniël 3 lees, speel die gebeure soos ‘n Hollywood trefferfliek voor jou af: die magsmal ‘baddie’ wat die drie ‘good guys’ die allerverskriklikste dood wil laat sterf, ‘n ‘jaw-dropping’ hoogtepunt waar die goeie outjies op bonatuurlike wyse oorleef, en die ‘baddie’ kry ‘n vat so! vuishou op die neus. Behalwe vir hierdie aksiebelaaide gebeure en die wonderwerk wat die Here gedoen het, is daar nog iets in die verhaal wat boei: Sadrag, Mesag en Abednego se waardes en onwrikbare geloof…ten spyte daarvan dat hulle dit dalk nie kan maak nie: “selfs as Hy dit nie doen nie…”. Wat sou hulle vir die koninkryk van God werd wees as hulle daardie dag die ‘maklike’ uitweg gekies het; die ‘spring-die-vuuroond-vry’-kaart gebruik het…en gebuig het? Niks? Mens weet nie. Maar vandag nog inspireer hierdie stukkie getuienis van drie manne wat vasklou aan hulle waardes en naby-aan-God-leef lewenstyl, wat stewig bly staan, en sê: “ons sal ons lewens opoffer tot eer van ons God”. En so gebruik die Here 3 jong Joodse outjies, wat maar laer af op die rangorde by die werk was, om ‘n hele koninkryk te beïnvloed en glorie te bring vir Sy naam.

In die volgende gedeelte in ons Vas-reeks, kyk Siegfried na hoe God ons Vas-lewenstyl gebruik om glorie te bring vir Sy Naam. Kom journey verder saam met ons, met ‘n HONGER vir JESUS!