Verstaan die Opgestane Lewe: Deel 6 – Goeie Werke (Siegfried Maré)
‘Alleen uit genade is ons gered, deur geloof alleen. Nie uit goeie werke nie, maar tot goeie werke.’ Hierdie stelling is sekerlik een van die mees sentrale waarhede van ons Christelike geloof, maar ook die een waaroor daar die mees fatale misverstande bestaan. Daar is ‘n wesenlike onderskeid: ons dóén nie goeie werke om in die hemel te kom nie, nie om gered te word nie, maar omdat ons gered ís. Goeie werke lei nie tot ons verlossing nie; goeie werke is die bewys van ons verlossing en opgestane lewe in Christus. Deur ons werke word Jesus verheerlik. Jesus ontvang roem, eer en glorie deur die goeie werke wat gedoen word. Ons kan amper sê dat ons hande en voete, ons werke, ’n spieël is waarin mense vir Jesus raaksien.
Ons doen goed aan ander uit dankbaarheid vir die redding wat ons van Christus ontvang het. En God het vir elkeen van ons, vir jou en my, ‘n spesifieke taak, jou roeping, wat nét jy vir Hom op aarde kan verrig; om die goeie werke wat Hy vir jou persoonlik bestem het, uit te leef. Dit is die groter prentjie.
In die volgende gedeelte in ons reeks oor “Verstaan die Opgestane Lewe”, kyk Siegfried na ons opstanding in Christus vir goeie werke.