Vyf-klippie-geloof (Siegfried Maré)

Moordenaar, egbreker, bedrieër, leuenaar. Dapper soldaat, psalmdigter en musikant, vreeslose opponent, en koning. ‘n Man na God se hart. Dawid is bekend vir die dra van baie titels oor sy leeftyd, en alles in sy lewe was nie net maanskyn en rose nie. Inteendeel. Hy is menigmaal deur diep, donker waters. Ten spyte van mag, aansien, rykdom en swaarkry, pyn en lyding het Dawid steeds onwrikbaar vas in geloof bly staan. In alles het hy op God en Sy beloftes alleen vertrou. Selfs toe hy gruwelik gesondig het en gestraf is, het hy sy oog op Hom gevestig gehou. Want hy wat Dawid is, het die Vaderhart van Israel se God ervaar en geken. Hy was hartstogtelik lief vir God, en het absolute geloof in Hom gehad nog lank voor hy vir Goliat met sy vyf-klippie-geloof oorwin het. Nog lank voor die Gees van God by hom ingetrek het toe hy as koning gesalf is. As jong skaapwagter het Dawid baie tyd gehad om God te leer ken in die veld se stilte. Saans langs die vuur, snags in die skaapkraal, vroegoggend in die dounat grasvlaktes en smiddae langs die rivierstroom. Tydens die stil-stil gesprekke met sy Vader oor sy skape, sy broers, oor sy pa Isai wat ouer word, sy ma wat haar hande vol het met die klomp seuns, die weer wat nie saamspeel nie en die alledaagse dinge van ‘n skaapwagter.

Dawid het geweet wie Vader is. Hy het ‘n bykans bomenslike begrip vir die Persoon van God gehad. Hy het geweet wat Hy dink, wat Hy voel. Wat Hy nodig het. En hy het bo alle twyfel geweet dat hy tot alles in staat was saam met God. Die lewe wat God vir Dawid gekies het was werklik ‘n lewe van avontuur gewortel in geloof. Dawid se geloof in God se vermoë was so absoluut en seker dat hy sy lewe daarop geplaas het. En dít, is geloof.

Sondag kyk ons na waar Dawid se koningskap begin het, en hoe dit gevestig is omdat Hy geloof gehad het in die Persoon van God (2 Samuel 5:1 – 10).