Wysheid is ‘n Persoon (Siegfried Maré)

“Wisdom is the right use of knowledge. To know is not to be wise. Many men know a great deal and are all the greater fools for it. There is no fool so great a fool as a knowing fool. But to know how to use knowledge is to have wisdom.” ― Charles Spurgeon

Iemand het een keer gesê dat kennis is om te weet ‘n tamatie is eintlik ‘n vrug, maar wysheid is om te weet jy gebruik dit nie in vrugteslaai nie. Die verskil tussen ware wysheid en ware kennis is ‘n dun stippellyntjie. Al klink dit soos dieselfde begrip, is wysheid tog iets anders as blote kennis. Wysheid gaan oor die regte toepassing van kennis, volgens die omstandighede. Kennis is om baie informasie in jou kop te kan stoor. Wysheid is om te weet hoe om daardie kennis tot eer van die Here en tot voordeel van ander aan te wend. Kennis is om te weet wat is reg. Wysheid is om dit elke dag te doen. Kennis is om die evangelie volgens die Woord te ken. Wysheid is om dit nie te probeer opjazz en kompliseer en ingewikkeld te verwoord met al ons baie kennis nie, maar om die fokus op Jesus te hou.

Kennis wat nie reg gebruik word nie, of vir die regte doeleindes gebruik word nie, of die soeklig op jouself laat val, is eintlik maar useless en maak jou oorvol van jouself. Dit verander jou spoedig in ‘n dwaas, soos wat Spreuke sê. Wysheid wat ander mense eerste stel en hulle geloof opbou met jou eie bietjie kennis, maak die Here se hart bly. Sy soort wysheid verander jou woorde vanaf messteke na medisyne. Bo alles laat dit jou met groot respek vir God leef.

Siegfried het verlede week gekyk na hoe ons ons storie bou rondom die kennis van God; hierdie week kyk ons daarna hoe ons dit moet inkleur met wysheid. Ons gaan wysheid “demystify” – hoe kan ek dit ontvang, en hoe weet ek ek het ware wysheid wat net van God af kan kom?