Verstaan die Opgestane Lewe: Deel 5 – Vlees na Gees (Siegfried Maré)

As dit kom by ons sonde, verlossing en opgestane lewe in Christus, is daar min Skrifgedeeltes wat dit so duidelik en treffend soos Efesiërs 2 beskryf. Hier lees ons watter groot verandering God in ons lewens gebring het: Hy het ons wat geestelik dood was – verlore in ons sonde, sonder God en sonder hoop – uit genade saam met Christus lewend gemaak.

As Efesiërs 2 sê dat ons dood was, beteken dit nie dat ons fisies dood was nie. Dit is veel erger: Ons was geestelik dood. Dit beteken verlore, vervreem van God, sonder hoop en sonder God. Hier word ons lewe voor Christus as dood beskryf. Nie siek of sleg of aan die slaap of kort-net-so-bietjie-hulp nie. Dood. Dit is die Bybel se beskrywing van die mens wat in sonde geval het. Maar deur God se asemrowende genade maak Hy jou saam met Christus lewend. Jy het opgestaan uit die vlees en die Heilige Gees is nou in beheer van jou lewe en jy is vry. Dis hoe die storie nou staan.

Dit is eintlik te groot om werklik te besef wat God vir ons doen. Hy gee vir ons Iemand om elke oomblik deel van ons lewe te wees, 24/7, wat ons kan help om ons opgestane lewe reg te leef. Hy gee vir ons ‘n Vriend wat ons wil help om finaal koebaai te waai vir ons vlees, en met genade, en rede, ons opgestane lewe in Christus te léwe.

In die volgende gedeelte in ons reeks oor “Verstaan die Opgestane Lewe”, kyk Siegfried na ons opstanding uit die vlees in die Gees.