Mauritius Uitreik Maart 2025

Die Akker het die voorreg gehad om onlangs hulle 24e uitreik na die eiland van Mauritius te onderneem. Daarmee saam het die span van twee, Siegfried en Liesl Maré, ook die voorreg gehad om terug te keer na Rodrigues eiland. Die eiland van Rodrigues het die eerste keer oopgegaan vir Die Akker in 2023 en hulle kon bedien by Ps Steven en Jane Castell se kerk in Trés Soleil. Ps Marino en Veronique Bouquet, hulle seuntjie Azariah en Sarah-Jane het saam met hulle gegaan. Die hoogtepunte van die twee-in-een uitreik was sekerlik die twee Vrouekonferensies wat gehou was. Op 22 Maart het Ps Jane die eerste Vrouekonferensie van sy soort op die eiland van Rodrigues gehou. Liesl en Veronique het die voorreg gehad om daar te kon preek. Die atmosfeer was elektries met die teenwoordigheid van die Here en baie dames was aangeraak deur die kragtige woorde van die 6 sprekers. Die Rodrigues eiland besoek was afgeeindig deur ‘n ‘Beach church service’ waar twee mense gedoop was. Wat ‘n voorreg om op die pragtige strande kerk te kon hou!

Vanaf Maandag die 24e Maart tot Maandag die 31e Maart het die span na Mauritius teruggekeer. In Mauritius het hulle die voorreg gehad om by Ps James Leon se kerk in Baie du Cap te bedien, met mensies wat hulle lewens aan Jesus oorgegee het na die preek.

Deur die week het hulle tyd spandeer met die leiers en gemeentelede van die kosbare kerk, CRC in Surinam. Jare se vriendskappe werp vrug af en die pastore kon mekaar bemoedig om die wedloop sterk te bly hardloop en te voltooi.

Saterdag 29 Maart was die tweede Vrouekonferensie, maar hierdie een in Mauritius. Daar was ‘n lieflike, sagmoedige teenwoordigheid van die Here en baie vroue was aangeraak deur ons Koning Jesus. Die week is afgesluit deur kerk wat Sondag op die strand gehou was, drie mensies wat gedoop is en ‘n heerlike ‘bring & share’. Die span het Maandag die 31e Maart teruggekeer na Suid Afrika en hulle prys die Here vir die wonderlike geleenthede wat hulle gehad het om Sy naam groot te maak!

Luister na die getuienisse van ons spanlede wat die uitreik meegemaak het.